top of page

Ons Doelstelling & Strategie

Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.

Efesiërs 1:11, NLV

God het die grondgebied vir die gemeente voorberei en gereedgemaak! 'n Grondgebied bevat die hulpbronne wat jy nodig het om 'n roeping te vervul! Hierdie hulpbronne help ons om ons taak te verstaan, en ons taak bepaal ons strategie, besluite en identiteit!

Visie

Ek sien ‘n onmisbare gemeente! Ek sien ‘n vrugteboom in ‘n woestyn, ‘n watergat van hoop, oorlewing en voortbestaan, ‘n hulpbron vir groei, ontwikkeling en geestelike transformasie. Ek sien ‘n gemeente wat toegerus is, ‘n gemeente wat haar roeping in die gemeenskap verstaan en vervul. Ek sien ‘n gemeente wat op alle vlakke van ons gemeenskap ‘n verskil maak, wat oplossings kan bied. Ek sien ‘n gemeente wat verstaan dat om te dien, nie is wat ons in die kerk kom doen nie, maar wat ons in die kerk leer en oefen om buite te doen.  Ek sien ‘n gemeente wat produseer en projekteer! Protea Aanbiddingsentrum sal ‘n landmerk van geestelike transformasie in Paarl wees.

                                                                                                                             Dr. Etienne van Heerden

AGSPaarl_kleur.png

Die betekenis van ons logo

Die logo is herontwerp om die volgende weer te gee:

  • Cinema (filmband) Die woord is afkomstig van twee Griekse woorde κίνημα (kínēma, “beweging”) + Antieke Griekse woord -γράφειν (-gráphein, “skryf”) beteken.

    • Om te skryf met die beweging van beelde!

    • Ons is as verteenwoordiger van God, na Sy Beeld geskape (vlgs. Gen. 1:27, 1 Kor. 11:7, Efe. 4:24, Kol 3:10, Jak. 3:9).

    • “Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskape is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig!” Efe. 4:24.​

​​

  • Die Protea

    • In die Bybel word 'n mense se tydelike lewe vergelyk met 'n blom (Psalm 103:15). Dit is asof God ons in die protea herinner dat tyd uitloop en dat ons met moed die diversiteit van ons Gawes, talente en vermoëns moet fokus op die geestelike transformasie van ons dorp.​​

​​

  • Die Kruis (Die storie van Jesus)

    • As jy nie die goeie dinge wat jy ontvang het kan deel en aanwend om ander mense se lewens te verbeter nie, mis jy nie net jou eie lewensroeping en opdrag nie, jy beroof ook die wêreld daarvan om 'n beter plek te wees!

​​

  • Die drie kleure (Groen, Rooi en Blou)

    • Ons beleef God op hierdie 3 maniere:

      • Deur Jesus – Rooi (Commitment)

      • Deur die Heilige Gees – Blou (Krag)

      • Deur die skepping – Groen (Wysheid)

​​

  • Die donker agtergrond (Sondige wêreld)

    • Die donker agtergrond is die skerm waarteen ons die storie van Jesus Christus moet projekteer!

Die simboliese uitbeelding van die ou filmprojektor

Van Oktober 1939 tot November 2004 (65 Jaar), was die Protea cinema 'n eindpunt.  Films en produksies was buite geproduseer en binne geprojekteer.  In November 2004 het dinge verander toe die cinema as 'n kerk ingehuldig was. 

 

Nou sal ons binne produseer en buite projekteer.  Ons draai die ou 35mm Peerless projektor metafories om, om te wys dat wat hier binne begin word, na buite geprojekteer moet word.  Dit wat gebou was om 'n eindpunt te wees verander God in 'n beginpunt!  Wat God binne in hierdie ou cinema in jou begin het, sal jy daarbuite moet klaarmaak om jou roeping te vervul.

Die carbon arch lig in die projektor was so sterk dat dit jou blind kan maak sou dit in jou oë skyn.  Dit het my laat dink aan Paulus wat blind was nadat hy vir Christus op die pad na Damaskus gesien het. 'n Projektor kan net projekteer wanneer die skerp lig deur die film skyn om die beeld wat daarop afgedruk is na buite te projekteer.  Jy kan net jou roeping en getuienis projekteer as Christus se lig deur jou skyn.

Die ou projektor in die ingangsportaal is 'n antieke 35mm Peerless Magnarc filmprojektor wat dateer uit 1927. Die woord Peerless beteken ‘onvergelykbaar’ en so behoort jou projeksie van Jesus Christus te wees!

bottom of page