top of page

Wie is Ons?

Ons Projekteer Christus!

AGS Paarl, Protea Aanbidding-Sentrum is 'n dinamiese AGS Pinkster gemeente wat sedert 1918 in die Paarl bestaan. Ons glo en verklaar nederig dat ons ontstaan, voortbestaan en bestemming vanuit God gebore is; en dat ons gemeente ‘n openbaring van die kerk van Jesus Christus op aarde is en dat dit funksioneer onder Sy heerskappy as hoof, ooreenkomstig die uitsprake van die Heilige Skrif, die werking van die Heilige Gees en die bedieninge soos deur Hom ingestel; en die lidmate van die Gemeente navolgers van Jesus Christus is en almal hulself iewers op die pad van geestelike groei bevind. Ons doelstelling is om alles wat God in ons produseer na buite te projekteer om sodoende ons gemeenskap te inspireer.

Ons Geloofsbelydenis

  • ONS GLO in die ewige, drie-enige God, Almagtige Skepper, Onderhouer en Regeerder van die ganse skepping.

  • ONS GLO in God die Vader, die outeur van die skepping en verlossing.

  • ONS GLO in Jesus Christus, die enigste Seun van God die Vader, ware God wat ter wille van die mensdom en sy verlossing van die hemel neergedaal en vlees geword het; wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het en gekruisig is, gesterwe het en begrawe was, wat uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die regterhand van die Vader sit.

  • ONS GLO in die Heilige Gees, ware God wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en in die hele waarheid lei.

  • ONS GLO dat die Bybel die word van God is, geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees; dat dit gesaghebbend die wil van God verkondig en ons alles leer wat vir saligheid nodig is.

  • ONS GLO dat alle mense na die beeld van God geskape is; as gevolg van hul sondige opstand is hierdie beeld geskend, dat alle mense voor God gesondig het en dit die wil van God is dat alle mense saligheid sal ontvang deur geloof in Jesus Christus.

  • ONS GLO in die doping in die Heilige Gees, met die aanvanklike teken van spreke in tale soos aan alle gelowiges belowe is. Ons glo in die werking van die gawes en vrug van die Gees in die lewe van 'n Christen. Ons glo dat 'n Christen 'n dissipel van Jesus Christus behoort te wees en wat 'n toegewyde en heilige lewe lei.

  • ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en God se wil vir alle mense. As charismatiese gemeenskap verkeer hulle onderling en stig mekaar.

  • ONS GLO dat die doop van die gelowige deur onderdompeling en die Nagmaal instellings van Jesus Christus is en deur die Kerk onderhou moet word.

  • ONS GLO dat op die God-bestemde tyd Jesus Christus Sy Kerk kom wegneem.

  • ONS GLO in die oordeelsdag wanneer Jesus Christus die lewende en die dode sal oordeel. Ons glo in die opstanding van die liggaam en 'n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose. Ons glo in 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde waar God in heerlikheid sal regeer.

Ons Gemeentebeleid

Die doel van ons gemeentebeleid is om riglyne te lê waarvolgens ons ons gemeente bestuur. Hierdie beleid speel ’n belangrike rol aangesien dit help om aksies, gedrag, besluite en praktyke in rigtings te kanaliseer wat goeie uitvoering van strategie bevorder. Verder help ons beleid om die visie en missie van die gemeente te ondersteun, doeltreffendheid te bevorder en om konsekwentheid te verseker.

Druk op die PDF Skakel om die dokument te besigtig.
bottom of page